FREE DELIVERY IN SOUTH AFRICA on all orders over R2000 | T&C'S APPLY

0

Your Cart is Empty

HOOP - Joernaal van Junie

June 04, 2024 2 min read

 


Wat in die lewe beter as 'n mooi uitsig anders van skoonheid en prag?

ver-kyk is droom goeters in tasse op 'n stasie - dis die geheime hoekies van ervaring wat wegkruip in niemandsland. Dit is juis hierdie afstand wat Hoop so aantreklik maak. Wie hoop nou op iets wat hy reeds ontvang het?

Hoop is 'n klein dorpie waarheen jy op pad is - dit is die huise met die goue vensters op die horison. Geloof is om op jou fiets te klim en te trap, wind in die hare en spoed deur die blare; al die pad na die dorpie Hoop. Hoop is die bestemming. Geloof gebruik jy om daar te kom.

Hoop laat jou opnuut gryp na die verkyker: dit bring jou drome naby en laat perspektief soos 'n kaleidoskoop voor jou oopspan.
Meeste van ons het vergeet om te hoop. Hoop het 'n mooi woord geword en dui gewoonlik op jou hemelse bestemming, maar hoop is ook vir nou. Elke mens kom hierdie wêreld binne, in 'n atmosfeer van verwagting. Jou vermoë om te vermenigvuldig beteken dat God in Sy hart wou hê dat jy moet uitsien na die toekoms. Dat jy sal uitsien daarna om vrug te dra.(GEN 1:28, Mal 2:15)
In Hebr 11 lees ons dat hoop 'n motiveerder is, dat dit lewe bring en dat dit geloof aan die brand steek sodat jy in beweging kan kom.
Ons word so afgestomp met ons eie lewens. Ons kyk nie meer verder as die naaste muur nie, ons warrel en woel soos die Suid-Oos: dan hier dan daar, maar kom nêrens nie. 

Waar het jou drome, jou visie en jou verwagtinge gaan parkeer?
Die lewe is nie 'n parkeerarea nie, dit kom nie met 'n parkeermeter nie - die lewe soos God dit vir ons bedoel het: is uitspattig en vrolik. Die lewe borrel en beweeg van baba tot bolla, van goue môres tot skemer groete. Die kringloop van die lewe is nie 'n lustelose gekruie nie, dis skepper se Wil en planne en ons bereidheid om ons vissie in te stel en die hoop aan te gryp soos 'n soet-sag perske. 

God is by ons, Hy woon in ons. Hy loop deur mislukte, verwaarloosde tuine waar hoop en drome deur onkruid uitgeroei is. Hy sien die verstopte fonteine en stilstaande vrot water en Sy hart vir jou is "voorspoed en nie teenspoed nie, Hy wil vir jou 'n toekoms gee, 'n verwagting.."(Jer 29:11)
Span jou oë weer in om ver te kyk: daar na die horison, kilometers van jou. Gaan sit weer soos 'n klein kindjie wat wag vir 'n storie en pak jou drome uit jou rugsak, stof daardie bang-wag af en geniet wat jy sien. Koop die tyd uit, probeer alles en behou die goeie. 


1 Pet 2:9 
"Julle daarenteen, is 'n uitverkore volk,  'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendoms volk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig."


Hoop is 'n droom wat aanhou, al word ons wakker  - Aristoteles